Vicker- ons kosbare geskenk
Geskryf deur Adri van Staden

Luan is op die ouderdom van drie met outisme gediagnoseer. Alhoewel dit ‘n bitter pil was om te sluk, het dit ook in ‘n mate verligting gebring. Na vele onsuksesvolle besoeke by verskeie dokters was daar uiteindelik ‘n naam vir sy wisselvallige gedrag en ons kon ‘n plan beraam om daaraan te werk.

Elke dag saam met Luan was ‘n uitdaging. Vir die eerste agt jaar van Luan se lewe het ek nie een aand deurgeslaap nie. Hy was baie geheg aan my en het saans by my in die bed geslaap omdat hy heeltyd wou voel dat ek by hom is.

Hy was ingeskryf by ‘n kleuterskool maar het geweier om daarheen te gaan tensy sy ouma hom vergesel. Hy het ook nie vreeslik belang gestel daarin om met die ander kinders of speelgoed te speel nie.

Ons dae was gevul met afsprake by die arbeidsterapeut en ‘n reeks stimulasie oefeninge. Ek moes hom ook daagliks met ‘n lyfborsel borsel omdat hy vreeslik tas sensitief was.

Daar moes 24 uur ‘n dag na Luan se behoeftes omgesien word; die druk was ongelooflik en my eie gesondheid het daaronder begin lei. Ek was na aan breekpunt.

Ek het toevallig op ‘n televisie program afgekom waar daar vertel is van die werk van Autisme Ondersteuningshonde. Skielik was daar ‘n lig aan die einde van ‘n baie donker tonnel. Die wete dat daar hulp beskikbaar was het my nuwe hoop gegee en met groot opgewondenheid het ek begin navorsing doen.

Kort daarna het ek besluit om die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging vir Blindes (GDA) te kontak en ek het aansoek gedoen vir ‘n hond vir Luan. As gevolg van die groot aanvraag, was daar nie dadelik ‘n geskikte hond beskikbaar nie en ons moes wag. In Desember 2016, drie jaar nadat ons aansoek ingedien is, het ons lewens handomkeer verander. Ek het ‘n oproep ontvang van die Gidshondvereniging; daar was die perfekte hond vir Luan. Ek kon die trane nie keer nie!

Met die eerste oogopslag het Vicker, ‘n pikswart Labrador reun, diep binne ons harte ingekruip en Luan kon nie genoeg van hom kry nie. In daardie oomblik het ek geweet dat ons lewens nooit weer dieselfde sou wees nie.

Luan en Vicker is onafskeibaar. Vicker is Luan se skaduwee en volg hom oral waar hy gaan. Alhoewel hy sy eie bed het, verkies hy dit om homself tuis te maak langs Luan. Hy gaan saam met Luan skool by Carpe Diem in George waar ons woon en geniet die aandag van die ander kinders en onderwysers vreeslik baie. Vicker neem graag deel aan die aktiwiteite by die skool. Wanneer Luan fietsry, hardloop Vicker gretig saam. As dit tyd is vir trampoline-spring, spring Vicker al te lekker saam. Vicker se gunsteling dag van die week is egter Woensdag wanneer dit bakdag by die skool is.

Luan se gemoed het drasties verbeter vandat Vicker deel geword het van ons gesin. Vicker weet presies hoe om Luan te kalmeer wanneer hy ontsteld is. ‘n Honde-soen op Luan se hand of ‘n poot op sy skoot verrig wonders!
Vicker het nie net Luan se lewe verander en verryk nie, maar het ook ‘n positiewe impak op ons hele gesin. Uitstappies na winkelsentrums of restaurante was voorheen ‘n reuse uitdaging maar met Vicker aan Luan se sy, is hy meer selfversekerd en ek minder gespanne.
Alhoewel dit ‘n lang proses was om Vicker uiteindelik by ons te hê, was dit beslis die moeite werd.
Hierdie Kersfees vier ons ons eerste Kersfees saam met Vicker en ons is baie opgewonde. Hy is die mees waardevolle geskenk wat ons gesin ooit kon kry. Ons kan ons lewens nie sonder hom indink nie. Dit gaan ‘n ekstra spesiale geleentheid wees met nog ‘n familielid wat deel in die feesvieringe!